Om die praatjie oor 'The Birds of the Waterberg' te hoor/kyk kliek hier.
Die betroubare bron van voëlspesies van die Waterberge verskyn hieronder en kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Foto’s wat in die Waterberge geneem is, is gemerk met en kan besigtig word deur op die spesienaam te klik – byvoegings tot hierdie fotografiese versameling word verwelkom. Teikenspesies van die Waterberge (rooilys en/of endemies) word inrooi uitgelig. Tans (Maart 2020) bestaan die lys uit 450 spesies, maar dit is nie van veel waarde nie, aangesien die lys spesies insluit wat per geleentheid vanuit die omliggende vlaktes die Waterberge besoek. Spesies soos die Boomkruiper, Bloukatakoeroe, Groenkolpensie en die Knopsterttroupant – almal ten minste een keer betroubaar aangemeld – is heeltemal buite hulle verspreidingsgebied. Die lys van swerwers soos hierdie word al langer en natuurlik is dit belangrik en tot voordeel van die toegewyde voëlkyker, maar hulle is slegs aanvullend tot dit wat die essensie van voëlfauna van die Waterberg uitmaak.
Wanneer die ongeveer honderd swerwers en toevallige besoekers uit die lys verwyder word, is die lys van voëls wat die Waterberg hul tuiste maak ongeveer 340 spesies. Tagtig present hiervan is standvoëls en die res is seisoenale besoekers – verskeie ooievaars, roofvoëls, meeste koekoeke, party visvangers, swaeltjies, sangers, vlieëvangers en ander. Die meerderheid van die voëlfauna (68%) kom voor in die breëblaar of gemengde bosveld savanne en dit sluit die meeste van die bergdele en valleie van die plato in. Dit sluit ook spesies in wat beperk is tot spesifieke tipes bosveld, soos byvoorbeeld is sommige beperk tot digbeboste klowe, ander tot Faurea-oorheersde bosveld of gedeeltelike doringveld. Twintig persent is spesies afhanklik van vleilande, sommige van hulle is beperk tot riviere, ander weer tot groot damme, vleiagtige syferwater, ens. Die res bly in oop grasvelde waarvan sommige (bv Kaapse kliplyster, Bergklipwagter, Hoëveldklappertjie, Kleinste Klopkloppie) beperk is tot die hoogliggende bergagtige graslande, terwyl ander (bv Swartpiek, Hoëveldskaapwagter, Gewone Koester) voorkom in sekondêre grasveld waar die bosveld moes plekmaak vir landbou.
As deel van die Suider-Afrika Voëlatlasprojek (SABAP2) word daar voortdurend opnames gemaak van die verspreiding van voëls in die Waterberge. Die verspreidingsgebied is opgedeel in “pentads” (elkeen 5’ x 5’ en rofweg 8 km x 8 km). Die oogmerk is om soveel dekking as moontlik van die 182 “pentads” in die Waterberge te kry. Tans is daar rekord van ongeveer 40 000 spesies in hierdie streek.
BirdLife South Africa het die Waterberge geregistreer as ’n IBA (sien Inleiding) omdat die streek ’n toevlug bied vir verskeie bedreigde spesies, hetsy op die Rooi Datalys of inheemse voëls met beperkte habitat. Hierdie spesies sluit in die Sekretarisvoël, Kransaasvoël, Breëkoparend, Veldpou en Bloukraanvoël (almal wêreldwyd bedreig), die Witrugnagreier, Edelvalk, Watertrapper, Witpenskorhaan, Grasuil en Blouvisvanger (almal streeksbedreig) en die Grootswartooievaar, Witkruisarend, Bosveldpapegaai en verskeie ander. Die oogmerk is om die aantal voëls in die Waterberge so akkuraat as moontlik te bepaal, waar hulle voorkom en om hulle toekoms te beveilig. |
Die verspreidingskaarte vir die voëlspesies wat hieronder genoem word is verkry van data uit die SABAP2. Daaruit kan afgelei word of die voël algemeen en wydverspreid voorkom en of dit skaars en gelokaliseerd in die Waterberge voorkom. Die kolletjies dui die pentads aan waarin die spesies waargeneem is (einde April 2018). Klein kolletjies dui min waarneming in ’n pentad aan en die groot kolletjies ’n hoër waarneming. Groen kolletjies is gebruik vir standvoëls, rooi kolletjies vir besoekers (trekvoëls, ongereelde besoekers of swerwers). Pienk kolletjies is rekords wat nie in die SABAP2-databasis opgeneem is nie.