Waterberg BioQuest

Welkom by die Waterberge

Vir diegene nog onbekend met Suid-Afrika se noordelike gebiede: die Waterberge, in die Limpopoprovinsie, is basies 'n groot, opgehewe plato waarvan die dorpie Vaalwater (-24.2987, 28.1100), die middelpunt is. Met sy vorm, soortgelyk aan diè van 'n omgekeerde piering, styg die plato sowat vier- tot vyfhonderd meter uit bokant die omringende Springbokvlakte wat dit begrens aan die suidelike en oostelike kante en die Limpoporiviervallei aan die noordekant. Die plato bereik sy hoogste punt, naamlik 2088 m bo seevlak, in die Marakele Nasionale Park ( -23.4707, 27.5886). Dit dek ongeveer 170 km van oos na wes, asook noord na suid en word aan drie kante omraam deur majestueuse kranse. Verder neem dit 'n area van ongeveer 14 000 vierkante kilometer in beslag, rofweg tweederdes van die oppervlakte van die Nasionale Krugerwildtuin. Dit word deur verskeie riviere gedreineer, ondermeer die Mogol, Palala, Mothlabatsi, Sterk, Mogalakwena en die Sandriviere - almal deel van die Limpoporivier se opvanggebied.

Die Waterbergomgewing word meestal relatief yl bewoon en groot dele word aangewend vir bewaring en wildboerdery. Binne sy grense is daar die Marakele Nasionale Park (64632 ha), Welgevonden Widreservaat (34850 ha), Lapalala Wildernisgebied (42000 ha), vier Provinsiale natuurreservate - D'Nyala (7976 ha), Doorndraaidam (6847 ha), Mogoldam (5124 ha), en Masebe (4400 ha) - wat almal deur Limpopo se Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme (LEDET) geadministreer word.

'n Derde van die plato (6524 vk km) is in 2001 deur UNESCO gevestig as die Waterberg Biosfeerreservaat, terwyl BirdLife South Africa meer onlangs erkenning gegee het aan die hele Waterbergomgewing as 'n wêreldwye Belangrike Voël & Biodiversiteitsgebied (Engels IBA). Die waarde van die Waterberge vir biodiversiteit lê byvoorbeeld daarin dat populasies van ongeveer 2000 plantspesies hier voorkom, waarvan ongeveer 30 spesies onderworpe is aan 'n beperkte verspreidingsgebied en òf skaars òf bedreig is; 119 soogdierspesies, 98 reptielspesies, 447 voëlspesies, 242 skoenlapperspesies en 91 spesies naaldekokers en waterjuffers, is ondermeer hier opgeteken.

Een van Birdlife South Africa se oogmerke is om die bewaringsstatus van belangrike Voël- en Biodiversiteitsgebiede in Suid-Afrika te verhoog en te bevorder en die doel met hierdie webblad, spesifiek gerig op die Waterberge, is dan om hierdie poging te ondersteun. Ons beoog om 'n bron van kennis daar te stel wat die fauna en flora van die gebied dokumenteer en illustreer en terselfderyd ook sal help om kritieke biodiversiteitsgebiede uit te wys met, ondermeer, visuele, beskrywende en verwysingsinligting rakende die Waterberge se geologie, geomorfologie, landskappe en geskiedenis, as nuttige bykomende inligting. Die webblad is hoofsaaklik nog onder konstruksie en enige deelname, inligting of ander bydraes tot die projek, word verwelkom. Kontak ons asseblief indien u enige fotos of materiaal oor enige interessante aspek van die Waterberge besit wat u graag met ons wil deel en bereid is om in die webblad te laat opneem.

Die onderhawige gebied, met buitelyne in groen gemerk, word op die onderstaande kaart aangedui. Die kaart dui ook die bergagtige dele (bruin), dorpies wat in die gebied voorkom (donkergrys), die netwerk van geteerde en gruispaaie (swart lyne), en die vernaamste riviere (blou lyne), aan. Dan volg 'n kaart wat die plantegroei in die area aandui. 'n Lys van die dominante bome en struike in elke streek kan hier afgelaai word. Na die plantegroei-kaart is 'n reënvalkaart en daarna 'n topografiese kaart van die Waterberge.

map
Waterberg vegetation
Waterberg rainfall
Waterberg uplands

welkom