Waterberg history
Geskiedenis

Hierdie deel word gewy aan Waterbergstories. Dit sluit verwysings en rekenaaraflaaie van gepubliseerde en privaatgedrukte familiegeskiedenisse in wat ons, waar ookal, raakloop, asook verhale van gebeure wat in die Waterberg opgeteken is. Verdere bydraes word verwelkom.

Onlangs bygevoeg: A review of Lee Gutheridge's book, The South African Bushveld.

Leon Rousseau (1974): Die Groot Verlange – Die verhaal van Eugene Marais. Translated as The Dark Stream. The story of Eugene Marais.

Marais se naam is sinoniem met die Waterberg en die verhaal van sy aankoms alhier- "The road to Waterberg" (dit kan hier afgelaai word) - is een van sy bekendste werke. Leon Rousseau se boek daarnaas is weer 'n sameflansing van die tien jaar wat Marais hier deurgebring het. Johann Lodewyk Marais se geskrewe stuk van 2009, sluit ook hierby aan.

Marais het op die ouderdom van 36 (1906 of 1907) die stad verlaat vir die Waterberg, waarskynlik aangevuur deur die aanloklikheid van prospekteerwerk, aangesien hy hom tuisgemaak het op die plaas Doornhoek buite Naboomspruit waar 'n aantal prospekteerders besig was om 'n tinneerslag te ondersoek. Hier het hy n prospekteerderslissensie bekom, saamgespan met 'n ander prospekteerder en 'n pondok opgerig om in te woon. 'n Trop bobbejane wat in 'n nabygeleë ravyn gebly het, het sy belangstelling geprikkel en mettertyd die onderwerp gevorm van 'n langdurige studie waarvan die resultate jare later gepubliseer is onder die titel "Die siel van die Aap".

Toe 'n Johannesburgse mynmaatskappy egter in 1908 die plaas oorneem, was hy verplig om aan te beweeg. Gys en Maria van Rooyen, wat in die omgewing op die plaas Rietfontein geboer het, het hom genooi om by hulle op die plaas te kom woon. Rietfontein, waar die bekende Die Oog en ander warmwaterbronne vandag nog is, het vir die grootste gedeelte van die tyd wat hy in die Waterberg deurgebring het, vir hom as basis gedien. Mettertyd het hy 'n bekende figuur in die Waterberge geword en het hy ondermeer vir ongeveer twee jaar gedien as mediese beampte vir die Doornfonteinmyn. Terselfdertyd het hy ook omgesien na die mediese behoeftes van die boerefamilies in die omgewing. Hy het hier 'n verskeidenheid diere soos bobbejane, vlakvarke en krokodille aangehou en ook tusssenin 'n bietjie met beeste en perde geboer. Hy het dikwels saam met vriende gaan jag en ook in hierdie tyd verskeie verhandelinge en gedigte laat publiseer in koerante en tydskrifte, terwyl hy steeds voortgegaan het met die bestudering van bobbejane en ander diere. Hy het ook op Rietfontein 'n intensiewe studie gedoen van rysmierkolonies en sy bevindinge in die Huisgenoot en Die Burger gepubliseer onder die titel "Die Siel van die Mier". Hierdie studie het later die onderwerp geword van 'n klassieke geval van akademiese plagiaat toe 'n Hollandse wetenskaplike in 1926 dit feitlik woordeliks gepubliseer het onder sy eie naam.

Marais het ook vir ongeveer ses maande by Gys se broer Piet gewoon op die plaas Purekrans waar die bedreigde broodboomspesie Encepholatus eugene-maraisi, wat na hom vernoem is, gevind kan word. Marais se volwasse lewe is gekniehalter deur 'n toenemende afhanklikheid van morfien. Gedurende sy laaste jare in die Waterberge, toe hy begin probleme ondervind om hierdie middel te bekom, het onttrekkingsimptome hom fisies en geestelik begin aftakel. Sy seun, wat hiervan tehore gekom het, het hom op Rietfontein kom haal en stadtoe geneem. So het Marais aan die begin van 1916 die Waterberge verlaat, om nooit weer terug tekeer nie.

Die kaart hiernaas dui die gebied aan waar Marais die grootste gedeelte van sy verblyf in die Waterberge deurgebring het.

Eugene Marais books

Eugene Marais books

Eugene N Marais (1969): The Soul of the Ape. Human & Rousseau.

Eugene Marais was ‘n komplekse mens met baie intellektuele fasette. Hy was ‘n digter, joernalis, advokaat, hipnotiseur en natuurkundige. Hy het vloeiend in Afrikaans geskryf oor wetenskaplike onderwerpe toe Afrikaans nog ‘n jong taal was. Maar Marais was ook hopeloos aan morfien verslaaf.

Marais is in 1936 oorlede. Hy het reeds voor 1910 veld observasies oor bobbejane se sosiale gedrag gedoen, en was teen 1922 besig om aan die manuskrip van The Soul of the Ape te werk. Hierdie onvoltooide manuskrip is in 1969 gepubliseer, 33 jaar nadat hy oorlede is.

Hy het Darwin se tegniek gebruik om die gedrag van laer orde diere te beskryf, en om dan daarmee menslike emosies te probeer verstaan. (Charles Darwin, The Descent of Man and Selections in Relation to Sex, Ch III and IV, 1871).

Hierdie manuskrip moet gesien word as ‘n vroee poging in wat vandag bekend sal wees as evolusionere sielkunde. Dit is egter nie analitiese ontleding van bobbejane se psige nie, eerder ‘n diepgaande poging om die mens se psige te verstaan. Ons kan maar net spekuleer tot welke mate Marais probeer het om homself te verstaan.

Johann Coetzee, Julie 2018

Eugene Marais

Leon Rousseau (1984): Eugene N. Marais – Versamelde Werke. 2 volumes, 1296 bladsye. Van Schaik: Pretoria.

'n Versameling van Eugene Marais se werke, alhoewel nie noodwendig volledig nie. Diegene wat in die Waterberge belangstel, sal die hoofstukke "Die Siel van die Mier" (waarin Marais se navorsing op Rietfontein oor termiete gedokumenteer word) en "The Soul of the Ape" rakende sy navorsing oor bobbejane op Doornhoek, interessant vind. Die hoofstuk "The road to the Waterberg" dek hoofsaaklik Marais se korter werke en gedigte, met die Waterberge as agtergrond.

Liz Hunter

Elizabeth Hunter (2010): Pioneers of the Waterberg – a photographic journey. 128 bladsye. Selfpublikasie.

Die skryfster gebruik ou familiedagboeke en foto's om haar familiegeskiedenis, vanaf haar grootvader se koms na die Waterberge in 1886, tot op die huidige, na te spoor. Dit bied 'n fassinerende storie van die eerste setlaars se dag tot dag bestaan en word ryklik geillustreer deur 'n verskeidenheid foto's. Sommige hiervan is meer as een honderd jaar oud.

Lex Rodger book

Lex Rodger (2000): Vintage Waterberg and Timeless Waterberg. Selfpublikasie.

Die skrywer het vir baie jare gewoon op die familieplaas Stepping Stones (wat nou deel vorm van die Entabeni Natuurreservaat) en hierdie twee publikasis verskaf 'n rykdom inligting oor alledaagse gebeure, buurplaaseienaars, Waterbergstaaltjies en veral oor sy eerste liefde, naamlik die bome van die omgewing.

Clive Walker

Clive Walker & Koos du P Bothma (2005): The soul of the Waterberg. 187 bladsye. Waterberg Publishers & African Sky Publishing: Johannesburg.

'n Ryklik geillustreerde boekstawing van die geologie, geomorfologie, argeologie, kultuurerfenis en fauna en flora van die Waterberge, wat afsluit met 'n gedetailleerde weergawe van Eugene Marais se lewe en werke tydens sy tienjarige verblyf in die Waterberge.

Swaershoek in die Waterberge

Louis Trichardt (2016): Swaershoek in die Waterberg – Afrikanner erfenis of niemandsland? Selfpublikasie.

Die outeur is 'n vyfdegenerasie afstammeling van die bekende Voortrekker met dieselfde naam. Sy pa of moontlik sy oupa, het in die Enslinfamilie, een van die vyf families waaruit die 'Jerusalemgangers' bestaan het, ingetrou. Hierdie groep het Marico gedurende 1858 verlaat op 'n reis wat beplan was om hulle na die Heilige Land te neem. Toe hulle egter die Nylrivier bereik, volgens oorlewering so deur hulle genoem, het hulle besluit om in daardie omgewing oor te bly- sommiges naby Nylstroom - terwyl ander verder na die weste versprei het. Die Enslins het hulle op Renosterkloof, aan die voet van Trichardspas gevestig. Hulle afstammelinge is steeds daar woonagtig. Die boek verhaal die onstuimige gebeure in die lewens van opvolgende geslagte uit hierdie familie. Die naam Swaershoek is so genoem, na aanleiding van die vyf swaers wat die Jerusalemgangers verteenwoordig het.

Renosterkloof signboard

PLAASNAME - heelwat van die amptelik-geregistreerde plaasname in die Waterberge is vernoem na diere. Daar is bv sestien (soos die een hiernaas) wat na die renoster vernoem is, gewoonlik gekoppel aan -kloof, -kop, -hoek, of -hoekspruit, -spruit, -drift, ensomeer. Een-en-twintig plase gebruik die woord buffel in die naam en bo-aan die lys verskyn hartbees of hartebees wat in vier-en-twintig plaasname gebruik word.

Ander dierename word ook gebruik, alhoewel in 'n mindere mate. Hieronder val eland (sewe), gemsbok (ses), leeu, zebra en duiker (vier elk), olifant en rietbok (drie elk) en steenbok (een). Dit wil voorkom dat toe die Waterberge se plase gedurende die laat tagtiger jare opgemeet en van name voorsien is, leeus en olifante reeds feitlik uit die distrik verdwyn het, maar dat renosters en buffels nog redelik volop was..

Boomname kom geredelik voor, met boekenhout en tamboti bo-aan die lys met vyftien, geelhout vier, vyeboom drie en maroela een keer. Soos te verwagte, inaggenome die feit dat die Waterbergomgewing meestal baie sanderig of rotsagtig is , kom name met sand of klip heel dikwels voor. Sestien plaasname bevat die woord sand- (zand-) en sestien ander die woord klip-.

Miskien is die vreemdste plaasnaam wat in die Waterberge voorkom Kiss-me-quick and-go-my-honey 794 LR wat net Noord van van die Kloofpas geleë is. Die storie hieragter is vervat in RF Odendaal se boek "Noord Transvaal op Kommando", hieronder genoem.

Roelf Odendaal (1995): Waterberg op Kommando, 1899 - 1902. Selfuitgewer, Nylstroom.

Hierdie boek handel hoofsaaklik oor die Waterbergers se betrokkenheid, by die Tweede Vryheidsoorlog. Daar word breedvoerig aandag gegee aan die rol van Genl. Christiaan Beyers asook ander figure soos o.a. Jan du Plessis de Beer, Freek en S.P Grobler en Gen. Hendrik Schoeman. Daar is ook hier en daar verwysings na Eugene Marais wat, natuurlik vir die duur van die oorlog, in die buiteland was. Die verskroeide aarde beleid deur die Engelse toegepas asook die Konsentrasiekamp te Nylstroom ontvang ruim dekking.
Hierdie boek is later in 2002 opgevolg deur 'n aansienlik lywiger boek deur dieselfde outeur, getiteld Noord Transvaal op Kommando (sien opsomming elders) waarin die kwessies wat in Waterberg op Kommando aandag kry, baie breedvoeriger behandel word.

Braam Beneke, April 2018.

R.F. Odendaal (2000): Noordtransvaal op Kommando. Jotha Drukkers

In hierdie redelik lywige verhandeling, poog die skrywer om die deelname van die burgers van die ou Noord-Transvaal aan die boereoorlog van 1899 tot 1902 te herkonstrueer. Hy bespreek gewaande teenstrydige opvattings oor die optrede van sommige individue, grootskaalse verdeeldheid onder die boerebevolking, die rol van verraaiers, die verskroeide aarde beleid, die internering van vroue en kinders in konsentrasiekampe, asook na-oorlogse bitterheid en armoede. 'n Groot deel van die boek handel oor die invloede van individue, veral die boereleiers, soos Generaals Beyers, Viljoen en Botha.

Braam Beneke, April 2018.

R.F. Odendaal (2000): Waterberg word gekersten. Selfpublikasie (tegnies bygestaan deur Jotha Drukkers).

Die skrywer poog om die demografie van die Waterbergomgewing gedurende die middel tot laat 19de eeu te bepaal. Die doel hiervan was om die pogings van verskillende kerkgenootskappe en individue, om die wydverspreide plaaslike inwoners te kersten, in perspektief te stel. Hy maak ondermeer gebruik van aannames afgelei van verskeie amptelike en nie-amptelike bronne en ander beskikbare materiaal. Midde-in hierdie aannames staan die gereelde oorloë en gevegte tussen plaaslike inheemse volke, opeenvolgende droogtes en oorbeweiding wat aanleiding gegee het tot 'n mate van nomadisme. Voeg hierby die verwoestende Anglo-Boere-oorlog teen die draai van die eeu en Brittanje se se verskroeide aarde beleid wat verder bygedra het tot die ontwrigting van die reeds yl bevolking, beide swart en wit. Hy glo dat slawerny, toegepas deur van die sterker stamme, op daardie tydstip ook 'n wesenlike invloed gehad het op die populasiedemografie van die Waterberge..Dit alles bring die skrywer tot die gevolgtrekking dat die Waterbergomgewing vir die grootste gedeelte van die 19de eeu, "woes en leeg" was.

Braam Beneke, April 2018.

William Taylor, Gerald Hinde & David Holt-Biddle (2003): The Waterberg: the natural splendours and the people. Struik, Cape Town.

A coffee-table presentation of key aspects of the history, culture, scenery and biodiversity of the Waterberg plateau and surrounding areas.

Ian Finlay (2011): Welgevonden: An African Wilderness Reborn. Firefinch Publications, Dublin.

The author, a noted photographer and Welgevonden resident, has compiled a magnificent selection of images of the fauna and scenery of this iconic Waterberg reserve.

Clive Walker (2016): Lapalala Wilderness in the Waterberg. Jacana Media, Johannesburg.

A privately-funded coffee-table book about the establishment and development of the Lapalala Wilderness private game reserve.

14 E.E. Burke (ed) (1969): The Journals of Carl Mauch 1869-1872. National Archives of Rhodesia, Salisbury.

This record contains the earliest-known written account of a journey across the Waterberg plateau, in November/December 1869. Pp 25-35.

Sas Kloppers (2013): A Dictionary of the Artists of the Waterberg. Dream Africa Productions, Bela-Bela. www.dreamafrica.ws.

A comprehensive, though not exhaustive collation of artists who have lived and worked in the Waterberg, together with examples of their work.

Chris Wagner (2010): Waterberg-Bosveld – Prikkelgids vir Veldbewaring. Hoogland Uitgewers / PNA Bela Bela.

A Waterberg resident has produced this small, stimulating guide to veld management based on his experience as a farmer and conservationist in the Warmbad area for over 45 years.

Maria M van der Ryst (1998): The Waterberg Plateau ... in the Later Stone Age. BAR International Series 715. Archaeopress, Oxford, UK.

The only comprehensive, professional publication so far about the early human history of the area, up until the arrival of white settler farmers.

Three privately published volumes that describe the founding and growth of the various Dutch Reformed Churches and their communities in Modimolle, Vaalwater and Melkrivier from 1865 to the present.

C. Louis Leipoldt (1937, 1980): Bushveld Doctor. Human & Rousseau, Cape Town.

An autobiographical account of the career of the first Schools Medical Inspector of the Transvaal in the period following World War 1 by the renowned medical doctor, natural historian, Afrikaans poet and writer. Leipoldt visited many rural schools in the Waterberg and Bushveld, and described the primitive, unhygienic and disease-wracked conditions he encountered there.

Stephanie Rohrbach (2013): Healing Rhinos and other souls: The Extraordinary Fortunes of a Bushveld Vet. Privately published. www.peppertreechronicles.com.

A warm and amusing account of the career of a beloved and highly regarded vet, the late Dr Walter Eschenburg, who spent most of a 50 year career working among domestic and wild animals in and around the Waterberg.

Rupert Baber (ed) (2009): The Waterberg Meander, Volume 1. Waterberg Biosphere Reserve, Vaalwater, Limpopo.

The first brief travellers’ guide to the essential scenic, geological, archaeological and cultural sites of the eastern part of the Waterberg Plateau, with detailed route maps and accommodation listings.

Pamela Oberem (2009): The Lazarus Funeral Parlour. Umuzi Press, Roggebaai.

The well-known veterinarian puts aside her professional role to write an entertaining novel about morals, intrigue and scandal in a typical Waterberg town.

Lee Gutteridge (2008): The South African Bushveld – a field guide from the Waterberg. Southbound, Johannesburg.

Die skrywer, in Engeland gebore, het as tienerjarige na Suid-Afrika gekom en was ten tyde van die publikasie van hierdie boek, reeds ongeveer vyf jaar saam met sy gesin woonagtig op die Entabeni Safari Bewaringslandgoed waar hy dan ook werksaam was.

Hierdie goed-geillustreerde veldgids bevat bykans 1800 kleurfoto's en is toegerus met bladsykleurkodes vir verwysing na enige afdeling om die leser sodoende maklik en vinnig na die gevraagde bladsye te neem op sy ontdekkingstog van die omgewing se skatkis van fauna en flora. So, byvoorbeeld , kan die verskeidenheid blomme maklik nageslaan word deur slegs die kleurkodes te volg terwyl die afdeling met betrekking tot die bome wat in hierdie omgewing voorkom, 'n kaart bevat wat blaardistribusiepatrone asook relevante inligting oor ander aspekte soos blaarvorm en -grootte insluit.

Die gids sluit bydraes in deur kundiges oor, ondere andere, amfibieë, voëls en reptiele.



Braam Beneke, April 2019.
Voëls by die Oog

Rudolph Oosthuizen (2018): Voëls by die Oog.

Rudolph Oosthuizen is ’n inwoner van Die Oog Aftreelandgoed. Hy het ’n passie vir voëls en is ook ’n uitstekende voëlfotograaf. Sy boek “Voëls by die Oog” het soos die titel aandui sy mede-inwoners van die aftreelandgoed as teiken gehoor. Dit is bedoel om ’n praktiese gids te wees vir natuurliefhebbers wat graag meer te wete wil kom oor tuinvoëls asook hoe om hulle te lok en te bevriend. Voëls by die Oog verskil heeltemal van die gewone veldgids vir voëls. In ’n lekker gemaklike verteltrant gee Rudolph raad oor hoe om voëls na jou tuin te lok met voëlvriendelike plante, die regte kos, planne vir die vervaardiging van voerders en die voorsiening van kunsmatige neste. Hy gee ook planne oor hoe om voëls mak te maak vir makliker bestudering. Bedreigings soos gif en huiskatte kry ook aandag. Die fotografie van voëls word breedvoerig bespreek. Al is die boek gemik op inwoners van die Oog is die oorgrote meerderheid van die inligting van toepassing op die Waterberge as geheel en selfs verder.



Chris van Zyl, August 2018.

tuis      home     terug